I KNOW! - EK WEET!

Knowledge is fun - Kennis is pret

  • Increase font size
  • Default font size
  • Decrease font size

 

 

 

 

 

 

Dawid van Lill

 

Ek het op ’n hele paar plekke grootgeword, want my pa was die plaaslike posmeester en ons is gereeld verplaas. Al my grootwordplekke was in of naby Suidwes-Afrika, wat nou Namibië is. Omaruru, Stampriet, Grootfontein, Upington en weer Grootfontein – dit is hoe my paadjie geloop het vóór ek weermag en universiteit toe is.

 

Die onderwysers wat ek die beste onthou is meneer JC Strydom, wat ons meer van Afrikaans moes leer, en Mrs Meintjies, aan wie se voete ek Engels geleer het. Aangesien Engels nie eintlik ’n erkende spreektaal op Grootfontein was nie, was ek en Mis Ma’am (soos sy bekend was) lang tye die enigste twee deelnemers aan die gesprekke in die Engelse klas! Ek het ook op Grootfontein baie Engels begin lees, want die biblioteek, wat in ’n ou Duitse fort se reusagtige balsaal was, het baie meer Engelse as Afrikaanse boeke gehad. Maar lees moes ek lees… ek het selfs tydens ’n oorlewingstog in my weermagjare ’n dikke boek in my rugsak saamgekarwei! Dié lees het vir my talle nuwe wêrelde oopgemaak.

 

My liefde vir feite kom van radio luister en lees. Ek het so tussen die fietsry, speel en ontdekkingsreise in en om Grootfontein nog tyd gehad om ses boeke per week te verslind. Ons het altyd die radionuus gevolg om te weet wat in die wêreld aangaan en ek en my pa het op ons eie aan al wat vasvraprogram is deelgeneem.

 

In my kinderjare was ons wêreld baie ‘kleiner’ as vandag. Televisie, rekenaars, selfone en die internet was nog net toekomsmusiek en die koerant het so twee dae laat by ons aangekom. Dit het my nie regtig gepla nie, want ek het op die ou end tog geweet wat in die wye wêreld aangaan.

 

Ná my twee jaar in die weermag (op Oudtshoorn) het ek op Stellenbosch gaan studeer. Teologie, nogal. Ek het hier teen my derde jaar agtergekom dat dit nie die beroep vir my was nie, maar eers ná my finale jaar besluit om ’n beroep te soek waar ek my liefde vir algemene kennis kon uitleef. Joernalistiek was my eerste keuse, maar ek het op daardie stadium aan die TV-program Flinkdink begin deelneem en tot my stomme verbasing twee keer gewen.

 

Die feit het my moed gegee om ’n omroeperstoets af te lê. Ek het die toets in Pretoria gaan doen, so tussen die opnames van Flinkdink deur. Gelukkig het ’n groot deel van dié toets uit algemene kennis bestaan en ek was dus baie goed voorbereid! In 1985 het ek by die Afrikaanse Diens van die SAUK (nou RSG) in Pretoria begin werk.

 

Ná twaalf jaar by die radio het ek die geleentheid gekry om betrokke te wees by die Punt Geselsradio, die eerste Afrikaanse geselsradiostasie in die land. ’n Jaar later het Punt ontslae geraak van omtrent al die Kaapse personeel, en ek het sonder werk gesit. Ek en my vrou, Marina, het toe besluit om ons eie potjie te krap. Ek het omtrent dieselfde tyd begin om feiteboeke saam te stel vir verskillende uitgewers, en skryfwerk het al meer deel geword van my beroep. Die eerste boek was ’n vasvraboek vir die gesin (in Afrikaans en Engels), en daarna het ek nog ’n paar algemene kennis- en triviaboeke geskryf. In 2003 het die uitgewer LAPA die eerste van ’n reeks boeke oor Afrika uitgegee. Die titelwasWonderlike Afrika. Dit is gevolg deur Wonderlike Diere van Suid-Afrika, Wonders van Afrika en Mensgemaakte Wonders van Afrika. Almal is ook in Engels vertaal.

 

In 2010 het ek Wonderlike Afrika en Amazing Africa ’n splinternuwe baadjie aangetrek. Dié ‘nuwe’ tweetalige tweeling word in Junie 2010 gepubliseer. Ek het deur die jare daarop begin aandring daarop dat die boeke wat ek skryf in Afrikaans én Engels moet verskyn. Ek verkies om die Engelse boek eerste te skryf, want wanneer dit by vertaling kom, vind ek dit makliker om iets van Engels na Afrikaans te vertaal. Dit is net asof my vertaal-Afrikaans losser en gemakliker vloei as my vertaal-Engels.

 

Afrikaans het nog altyd ’n groot rol in my lewe gespeel. Ek het Afrikaans begin lees lank voor ek skool toe is. Ek het ook ’n dekade lank in Afrikaans uitgesaai en ek skryf elke week duisende woorde in Afrikaans. Dit was dus ’n baie groot uitdaging toe Mike Jacklin van Jacklin Enterprises my in 2008 vra om die redakteur te wees van Britannica Junior: Ensiklopedie vir Suidelike Afrika. Dit was die eerste Afrikaanse ensiklopedie vir kinders in meer as ’n kwarteeu, en ek het dié ondervinding baie geniet. Die groot uitdaging was om 3 000 bladsye te laat vertaal sodat dit so na as moontlik aan die oorspronklike feite bly, maar dit in Afrikaans stel. Daar moes ook 500 nuwe artikels met ’n Suid-Afrikaanse inhoud geskryf word. Die grootste struikelblok was om altyd die regte Afrikaanse woord vir Engelse begrippe te kry of te maak. Dit was harde werk, maar ons het Langenhoven se voorskrif gevolg en die swaarkry met lekkerkry klaargekry!

 

Een  van my filosofieë in die lewe is die antwoord op ’n vreemde, maar eenvoudige vraag, “Hoe eet ’n mens ’n olifant?” Dié antwoord? “Stukkie vir stukkie.”

 

Dit geld veral wanneer dit kom by die aanleer van algemene kennis. Dit is iets wat ’n mens stukkie vir stukkie bymekaarmaak. Baie van ons algemene kennis sluip half ongemerk in ons breine in, maar ’n groot deel daarvan word met verloop van tyd aangeleer. Daar is nie ’n eenvoudige, vinnige resep nie. Dit is ’n voortdurende proses. Dit was net logies dat ek ná Punt iets sou soek wat met algemene kennis te doen het. Daarom het ons (dis nou ek, my vrou Marina en my skoonsuster Erika Bekker van Laerskool Bellville-Noord) so tien jaar gelede ’n program saamgestel waarmee ons dié algemene kennis-olifant kon aandurf. Ons noem dit sommer Ek Weet! en I Know! – nog ’n tweetalige tweeling! In ’n neutedop is dit ’n vasvraprogram wat elke week in die skoolkwartaal aan skole gestuur word.

 

Ons stuur Ek Weet! weekliks vir skole, want ons voel algemene kennis is iets wat aangeleer kan word en dat dit ’n proses is wat lewenslank moet aangaan. Nuuskierigheid is deel van elke mens se samestelling, maar dit kan beslis gestimuleer word. ’n Mens vergeet baiekeer dat kinders in hul eerste sewe jaar op hul ontvanklikste is vir nuwe inligting. Selfs al weet 90% van ’n klas nie ’n antwoord nie, baat hulle nog steeds daarby as hulle die vraag en die antwoord hoor.

 

Ek Weet!is iets van alles. Daar is twee weergawes. Een is vir kinders in Graad 1 (selfs Graad R) tot Graad 3 (of 4) en die ander een vir kinders van Graad 4 tot

matriek. Laasgenoemde se sowat 80 vrae word ingedeel vanaf MAKLIK, MEDIUM tot MOEILIK sodat onderwysers en leerders self kan bepaal tot watter moeilikheidsgraad hulle kan vorder. ’n Graad 5-leerder kan dalk die moeilike vrae beantwoord, terwyl ’n graad 11-leerder sukkel daarmee. Ons span gereeld vasvrablokraaisels in om die leerders se kennis te toets.

 

Ek Weet! bestaan uit meervoudige keusevrae, en die gedagte agter die program is dat onderwysers êrens in die week die kinders se algemene kennis- en nuuskennis toets. Baie mense het al gesê die heel kleintjies kan nie regtig deelneem nie, maar hulle geniet dit gewoonlik die meeste om hul kennis te toets. (Een juffrou se klas noem dit ‘slimtyd’.)

 

Met Ek Weet! probeer ons om die wêreld van die kind (en volwassene) effens groter maak as net die klaskamer. Dit is hoekom daar heelwat nuusvrae in die program is. Dit sluit in nuus oor belangrike en ernstige sake wat in Suid-Afrika en die wêreld gebeur, maar ook die lekker dinge, soos sport en vermaak. Ons gebruik die nuus om algemene kennis rondom onderwerpe te bevorder. So sal daar byvoorbeeld vrae wees oor ’n aardbewing in Chili en Haïti, en dan aanvullende vrae oor dié gebiede in die besonder en aardbewings in die algemeen.

 

Dié nuusgebeure prikkel die kinders se nuuskierigheid om nog meer uit te vind en dan vind leer soveel makliker plaas. Dit word leer met ’n doel. In dié geval dalk ook leer omdat ’n mens omgee. As kinders op so ’n manier ’n deeltjie van die oorvloed algemene kennis bemeester, is dit die begin van ’n wonderlike patroon waarmee ander kennis opgedoen kan word, sodat ’n mens al meer weet oor ’n verskeidenheid onderwerpe.

 

Saam met die algemene kennis wat só opgedoen word, kom ander belangrike elemente ook ter sprake, soos menings wat gevorm word, ’n bewussyn van ander mense se omstandighede, en nuwe insigte wat verwerf word. Die kurrikulum se inhoud word ook op die manier aangevul en bygewerk.

 

Ons sluit aan by die onderwerpe wat in die klaskamer behandel word en vra vrae oor wat ’n kind veronderstel is om te weet. Die kind mag dalk leer oor water, maar kan hy vinnig antwoord as jy vra, “Wat is die chemiese samestelling van water?” Die antwoord “H2O” kan weer tot interessante nuwe vrae lei.

 

Ons is baiekeer verstom oor hoe kreatief onderwysers te werk gaan met die programme wat ons vir hulle stuur. Party gebruik dit as ’n toets, ander hou prettige vasvrakompetisies tussen verskillende groepe in die klas, of selfs ’n groot vasvrageleentheid tussen verskillende klasse.

 

Ek Weet! is nie in die eerste plek daarop gemik om taalvaardigheid te verbeter nie, maar die taalvermoë speel tog ’n belangrike rol in die aanleer van feite. Trouens, taalvaardigheid is waar alle kennis begin. Ons probeer dus doelbewus om veral die jonger kinders bekend te stel aan nuwe woorde en begrippe wat in die nuus is.

 

Die vra van vrae is ’n prettige manier om met die onderrigmateriaal om te gaan en om op datum te bly met die belangrikste nuus van die week, veral as dit binne kompetisieverband in die klas gedoen word. Dit is ’n belangrike onderrigmetode wat nie naastenby genoeg ingespan word nie. ’n Belangrike funksie van die vasvra-onderrigmetode is om luistervaardighede te toets. ’n Mens moet baie fyn luister om die vraag reg te verstaan en as dit ’n kompetisie is, moet dit boonop vinnig gebeur.

Die mondelinge vra van vrae skep ook vir onderwysers ’n geleentheid om op ’n ander manier met leerders saam te werk. Onderwysers is baiekeer verstom oor die algemene kennis van sommige leerders wat gewoonlik nie op ander gebiede presteer nie. Dié kinders kry so geleentheid om op ’n bepaalde gebied te presteer. Leerders met debatsvaardighede kan ook ingespan word om vraestellers te wees. Dit is ‘n ekstra vaardigheid wat op die manier aangeleer word.

 

Ons wil baie graag meer in gesprek tree met onderwysers en ouers en ander kundiges oor die hoe en die waar en die wat van die aanbied van ’n vasvra. Daarom is ons besig om ons webruimte te verander sodat ’n mens inligting makliker kan oplaai en kommentaar kan kry van enigiemand wat al so ’n bietjie meer geleer het. Sien? Ons eet die olifant stukkie vir stukkie. Ons probeer ook nie die wiel van voor ontwerp nie. Ons leer van mekaar.

 

Ons het op die webruimtes www.dawidvanlill.com en www.iknow.co.za ’n geleentheid geskep vir leerders om gratis aanlyn aan ’n vasvra deel te neem. Ons wil graag ten minste ’n duisend leerders toets in ’n opname om te bepaal wat die stand van algemene kennis is. Die vrae en foto’s kom uit Britannica Junior: Ensiklopedie vir Suidelike Afrika, die nuwe kinderensiklopedie waarvan ek die redakteur was.

 

Ek werk ook saam met die uitgewer LAPA aan een van my ander belangstellings, naamlik Afrika. Die nuwe uitgawe van die boeke Wonderlike Afrika en Amazing Africa is nou beskikbaar.

 

 

 

Dawid van Lill

 

 

         

 

     

 

                                                                                                                                                                                                   

 South African Education Portal

 

 

 


 

Do you like quizzes?

Do you like quizzes?
 

Speel 'n vasvra

     

Klik op Speel 'n Vasvra. Wag dat dit laai. Tik net jou e-posadres in, en speel... (Jy het nie 'n gebruikersnaam nodig nie.)

Geniet dit!

 

 

 

               

Doen die vasvrablokraai.     

 Klik op EK WEET!

 

 

 

 

 


 

 

Samel geld in met EK WEET!


Ankara escort İzmit escort Gaziantep escort Kuşadası escort İstanbul escort ankara escort Escort bayan İstanbul escort